Temperatuurregulering (biologie)

Temperatuur bepaal nie net die geografiese verspreiding van lewende wesens nie maar ook hul individuele aktiwiteite; onderkant ʼn bepaalde minimum en bokant ʼn sekere maksimum is geen aktiewe lewe moontlik nie. Die optimale temperatuur is vir elke soort wese verskillend. In die diereryk kan 2 groepe onderskei word ten opsigte van hul liggaamstemperature en die regulering daarvan.

Koudbloedige diere besit nie ‘n vaste liggaamstemperatuur nie: hul liggaamstemperature, en daarmee saam hul metabolismetempo, wissel saam met die omgewingstemperatuur. Warmbloedige diere handhaaf wel 'n konstante liggaamstemperatuur en is derhalwe heelwat minder afhanklik van hul omgewing. Indien die invloed van die temperatuur op die lewensprosesse van plante of diere deur 'n grafiek voorgestel word, vertoon die resultate ʼn optimumkurwe: 'n Temperatuuroptimum lê tussen 'n minimum temperatuur waaronder en ʼn maksimum temperatuur waarbo geen lewe moontlik is nie.

Elke soort organisme besit sy eie temperatuuroptimum, wat bepaal word deur die optima van sy ensiemsisteme. By tropiese plante is die optimum hoog, en daarom ontwikkel hulle swak en stadig in koel en koue klimate: vir plante uit koue streke lê die optimum laag, en daarom kan hierdie plante nie in tropiese streke floreer nie. Temperatuur is dus 'n belangrike faktor by die verspreiding van plante oor die aarde. Ware temperatuurregulering, soos dit by die mens en sommige (warmbloedige) diere voorkom, word nie by plante aangetref nie.

In koue streke vind 'n mens baie eenjarige plante wat in die winter afsterf, maar waarvan die goed beskermde spore en sade in die daaropvolgende lente weer ontkiem. Ander plante sterf bogronds af maar oorwinter ondergronds as belle, knolle of wortelstokke. In die diereryk word daar op grond van hul liggaamstemperature en die regulering daarvan 'n onderskeid gemaak tussen 2 groepe: poikilotermiese (koudbloedige) of homotermiese (warmbloedige) diere.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search